News Swellendam

 News 
LAERSKOOL SWELLENDAM NUUS.
Die jaarlikse veldwedloop het op Donderdag 11 Oktober plaasgevind as deel van die kleure- byeenkoms wat op Vrydag 12 en Saterdag 13 Oktober gehou is. Die blouspan het die byeenkoms sowel as die Sangbeker gewen. Die volgende leerders het bekers ontvang:
Veldwedloop:
Jnr seun: Sebastiaan Cloete. Jnr dogter: Ronel se wet.
Snr seun: André Loubser. Snr dogter: Carla Visagie.
Beste middelafstand:
Seun: André Loubser. Dogter: Carla Visagie.
Beste Hekkies:
Seun: Paul Streicher. Dogter: Jana Cilliers.
Beste Hoogspring:
Seun: Stefan Groenewald. Dogter: Suzaan Steyn.
Beste verspring:
Seun: André Loubser. Dogter: Anrie Roux.
Beste gewigstoot:
Seun: André Smith. Dogter: Lee-Ann Michaels.
Beste spiesgooier:
Seun: Stephen klue. Dogter: Jana Cilliers.
Beste 0 / 15 Atleet:
Garth Bloemfontein.
Jnr Victor Ludorum: Jnr Victrix Ludorum:
De Wet Lourens. Ronel de Wet.
Snr Victor Ludorum: Snr Victric Ludorum
André Loubser. Jana Cilliers.


Swellendam Hospitaal se eerste Matrone oorlede.
Mej Jemine Bruwer, Swellendam hospitaal se eerste matrone, is onlangs op ‘n rype ouderdom in Somerset Wes oorlede. Sy het met haar beslisde leiershoedanighede, en mensliewende persoonlikheid die grondslag in die hospitaal gelê wat vandag nog voelbaar is. Vir haar was die verplegingsberoep werklik ‘n roeping en het sy dit met groot naasteliefde en toewydheid uitgevoer. Sy was op alle vlakke ‘n gerespekteerde en geliefde persoonlikheid. Voor haar aanstelling as matrone, was sy ook vir ‘n tydperk as klinieksuster bedrywing in Swellendam. In 1958 is sy aangestel as matrone in die laaste fase van die oprigting van die hospitaal en was sy gemoeid met die toerusting en meubelering van die inrigting. Die eerste pasiënte is alreeds toegelaat in Januarie 1959, voor die proses behoorlik voltooi was, weens die groot nood vir veral vir kraamdienste. Vroeg in die sewentigs moes sy uittree by bereiking van die verpligte aftreeouderdom, maar op die dorp bly woon in haar huis in Kerkstraat, steeds in diens van die gemeenskap. Swellendam het ‘n geliefde en geërde persoonlikheid uit die verlede verloor.


SWELLENDAM KRIEKETKLUB.
PATRICK (66) EN TOLLA (5/12) GOOI ANKER.
Met die blou see in die agtergrond van Hawston se krieketveld was dit van die begin af duidelik dat goeie ankers nodig was in die wedstryd. Swellendam het eerste gekolf op ñ moeilike kolfblad. Swellendam se kolwers: Du Preez (22), Jarqeus Evertson (20) en Willie Martin (18 ) ’n skitterende 66 lopies wat anker gegooi het in die onstuimige see. Swellendam het gestruikel op 86/6 maar Patrick het Swellendam tot 172 almal uit geneem. Op die blad was 172 teen enige span ‘n wen-telling.
Swellendam het kom boul en vroeg was Hawston 1 /2 in die moeilikheid. Tolla was in ’n verwoestende bui en het hier sy beste boulontleding ( 5 / 12 ) behaal. Dit kon baie beter gelyk het as daar nie vyf vangkanse verbrou is nie, ( drie van Tolla se boulwerk.) Hawston het nie geweet wat hulle tref nie en kaptein Willie Martin het uitstekende draaibal-boulwerk 3/29 behaal. Swellendam het hul teenstanders dan vir net 93 lopies uitgehaal.
Swellendam is nou na drie wedstryde onoorwonne. Hierdie komende Saterdag het Swellendam ‘n loslootjie. ‘n straatkrieket-ses-‘n – kant toernooi word op die Ovaal beplan vir die 27 Oktober Al die kinders in die straat word uitgenooi, kom geniet die dag.


VGK: SUURBRAAK / BUFFELJAGS VIER LERAAR SE DOKTORSGRAAD.
Die VGK Gemeente Suurbraak het verlede Sondag fees gevier omdat die plaaslike leraar van die gemeente Ds. Charles Flaendorp ‘n tydjie gelede sy doktorsgraad in Sistematiese teologie aan die universiteit van Suid Afrika verwerf het. Ds. Flaendorp het die spiritualiteit van die mense van Suurbraak oor die afgelope 200 jaar nagevors. Die titel van st proefskrif is: “The Coloured people of Suurbraak: 200 years spirituality formation through an identity of marginalisation”. Sy promotor was die bekende professor Christina Landman. In sy proefskrif meet Ds Flaendorp die inwoners se spiritualiteit aan die hand van ‘n spirituele paradigma. Hy ontwerp dan ‘n sesvoudige spirituele paradigma waarvolgens bruinmense hulle gemarginaliseerdheid self kan ophef. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat bruinmense se spiritualiteit in ‘n teologiese dissipline aangespreek word. Voortspruitend uit hierdie doktorale studie sal daar binnekort ’n boek oor die geskiedenis van Suurbraak verskyn. Dit sal ook die eerste publikasie wees waar die geskiedenis van die sendingdorpie volledig weergegee sal word.
Tydens die feesdienste het Ds. Flaendorp aan die Gemeente vertel van sy grootword jare en het gedeeltes van sy proefskrif aan hulle voorgelees. Hy het aan die Gemeente 1 Tessalonisense 2:20 voorgehou: “ Julle is my trots en my blydskap.” Ds. Flaendorp het hulde gebring aan die gemeente en hulle aangemoedig om voort te gaan om ñ baken van hoop te wees in Suurbraak. Die kerkraad, die Verenigings en die Senior Burgers het almal hulde gebring aan hulle leraar en hom bedank vir die belangrike stuk navorsing wat hy gedoen het, en vir die rol wat hy in die gemeente se spiritualiteit speel. Die plaaslike skoolhoof en ouderling van die gemeente, Mnr David Scheepers het die gemeente se trots verwoord in sy boodskap tydens die geleentheid. Volgens Mnr. Scheepers was ds. Flaendorp die regte leraar wat op die regte tyd na die Suurbraak gekom het met sy besondere gawes. Hy het die leraar en sy vrou bedank vir hulle nederigheid, hulle omgee en hulle meelewendheid. Die Christ Carries van Buffelsjagrivier wat deel is van die gemeente kinders het die geleentheid ingekleur metwonderlike geestelike danse, terwyl die PNA gospelgroep van Swellendam gesorg het vir wonderlike musiek tydens die diens. Na die diens is die Gemeente getrakteer op heerlike verversings en ñ lekker middagete in Buffelsjagrivier. Ds. Flaendorp is tans die voorsitter van die Paroolraad by die Departement van Korrektiewe Dienste en bedien die gemeente naweke.


Doodstraf moet terug sê A.C.D.P.
Tydens ʼn gemeenskapsvergadering bygewoon deur sowat 120 mense in die Railton gemeenskapsaal het dit weereens duidelik geword dat die A.C.D.P. nie sal ophou om die regering te versoek om die doodstraf weer in te stel nie.
Die Wes-Kaap se hoofsweep van die A.C.D.P. Vince Berg wat die Hofsaak ten opsigte van die A.C.D.P. deelname in die Kaapse metropool teen die O.V.K. by die konstitusionele hof gewen het, het verskeie skrifte uit die Bybel aangehaal waarom die doodstraf weer ingestel moet word, en dat daar geen afskrik middel vir ernstige gewone misdadigers is nie.
Hy het ook spesifiek die publiek ingelig oor die regte van huurders en verhuurders ten opsigte van uitsetting, en dat die kiesers in Suid – Afrika vir ʼn party soos die A.C.D.P. moet stem wat, wat Bybelse beginsels navolg sodat die land en sy mense geseën kan word.
Rdl. Julian Matthysen het ook genoem dat die A.C.D.P. hom daarvoor sal beywer vir die afskryf van skulde vir mense wat eenvoudig net nie die inkomste het om hul skulde te betaal nie, en dat die partye wat die raad beheer wel die mag daartoe het en nie Mnr. Delo nie, hy
( Mnr. Delo) is ʼn werker en voer slegs opdragte van die raad uit. Hy het ook die publiek aangeraai om liewers nie onwettige aksies uit te voer nie en dat mense nie toegelaat kan word om net te doen soos en wat hulle wil nie.
Hy het ook bekend gemaak dat ʼn konstitusionele kantoor van die A.C.D.P. bokant Check Inn in proses is om bedryf te word tot voordeel van alle inwoners met spesifieke probleme en behoeftes van die groter Swellendam munisipaliteit.
Vir meer inligting skakel Rdl. J. Matthysen – 082 303 1668 (sel) / 028 514 2949 ( kantoor )
Die uwe.
R.A. Gertse.
Sekretaris.


Artikels soos verskyn in die Langeberg Bulletin
Tel: 028-514 2354
Faks: 028-514 3646
E-pos: rmg@twentyfour.co.za

Home