Gansbaai News

 News 
Gansbaai Herald & Courant
Tel: 028 384 1473
Faks: 028 384 2397
E-pos: courant@itec.co.za

Redaksie: Redakteur - Francois de Jongh
Bemarker - Deonora de Jongh
Joernalis - Hardus Botha
Vryskut Joernalis - Vakant
Grafiese ontwerp en uitleg (Herald) - Monica Hayes
Grafiese ontwerp en uitleg (Courant) - Lize van Dyk
Drukwerk - Monica Hayes & Lize van Dyk

*************************************************************************************************************************************
GANSBAAI HERALD - 9 APRIL 2008
***********************************************************************************************************************************
GRUVONDS IN HAWE
’n Gruvonds is verlede Vrydagmiddag om sowat 02:10 deur Altus de Witt (25) van die boot Orca gemaak toe hy ’n lyk vanuit sy boot sien dryf het.
Die liggaam het tussen die pelagiese vloot en die nuwe hawe gedryf. “Ek het eers gedink dit is ’n rob,” het De Witt gesê wat alleen op die boot was. “Toe ek omdraai om die objek van nader te beskou, het ek gesien dis ’n lyk. Ek het die liggaam toe met ’n tou uitgesleep terwyl my pa die polisie gebel het. Toe ek by die sleephelling kom, was hulle reeds daar,” het hy gesê. Die erg ontbinde liggaam was geklee in ’n blou denim broek met ’n bruin leergordel en donkerblou sweetpak trui.
Die liggaam is per lykswa na die Hermanus lykshuis vervoer. Die liggaam, vermoedelik dié van ’n bruin of swart man, het geen skoene aangehad of enige herkenbare artikels soos ringe aan gehad nie. Volgens die Gansbaai polisie kon die liggaam reeds sowat twee weke in die water gewees het. ’n Nadoodse ondersoek sal bepaal wat die oorsaak van die persoon se dood is. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat dit ’n persoon van die Weskus was wat permanent op ’n boot in die hawe gebly het. Die ondersoekbeampte is sers. Petrus Fourie van Gansbaai Polisie. Enigiemand met inligting kan met hom in verbinding tree by die Gansbaai Polisie-kantoor by 028 384 0201.
Hannie Marais

MUNISIPALITEIT WYS TANDE MET ONWETTIGE BOUWERK
Die laat indiening van ‘n veelvoudige aansoek vir die ontwikkeling van woonstelle op ‘n erf aan Kerkstraat in Gansbaai gaan die ontwikkelaar duur te staan kom. Hoewel daar geen beswaar teen die aansoek was om die Groter Gansbaai Ruimtelike Plan te wysig ten einde die residensiële gebruik van lae digtheid na medium tot hoë digtheid te verander, die eiendom vir woonsteldoeleindes te hersoneer en afwykings in terme van toelaatbare dekking en boulynoorskrydings te verkry nie, het die Gansbaai-belastingbetalersvereniging daarop gewys dat die aansoek gedoen word om onwettige bouery reg te stel. In die lig hiervan is ‘n aanbeveling dat ‘n strydigheidsheffing van vyf keer die bouplanfooie aan die aansoeker opgelê word, deur die Uitvoerende Burgemeester goedgekeur.
Die aansoek word vir goedkeuring deur die provinsiale beplanningsowerheid onderhewig aan verskeie voorwaardes aanbeveel.

Tiener in Masakhane verkrag

‘n Vyftienjarige meisie van Masakhane is Saterdagaand verkrag terwyl sy van ‘n partytjie oppad was huis toe. Volgens Insp. Danie Rautenbach van Gansbaai Polisie het sy en twee vriendinne saam huis toe gestap. Die drie se huise was naby mekaar. Toe sy by haar huis wou instap, is sy deur ‘n man wat hulle vermoedelik van die partytjie agtervolg het, met ‘n mes teen die keel vasgekeer en onder ‘n bos verkrag.
’n Saak is aanhangig gemaak en sy het haar aanvaller, Andile Yeye uitgewys. Yeye is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
Hannie Marais

Polisie tree blitsvinnig op
‘n Man van Beverley Hils, Elton Booysen (Spikkels) is verlede Saterdag in hegtenis geneem kort nadat daar by die plaashuis op Modderlaagte naby Bbos ingebreek is. ‘n Saak is teen Booysen aanhangig gemaak weens die besit van gesteelde goedere. Volgens Insp. Danie Rautenbach het die polisie vroeg Saterdagoggend gereageer na ‘n oproep dat daar by die plaashuis ingebreek is. Hulle het ‘n klein Nissan bakkie wat ook op die plaas gesteel is agtervolg. In die jaagtog het die bakkie teen ‘n paal in Beverley Hills gebots. Die polisie het Booysen in hegtenis geneem terwyl hy in ‘n sak gekrap het wat op die bakkie was. Die sak het gesteelde goed wat uit die plaashuis gesteel is, bevat. Booysen het Maandag in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat. Sy borgvoorwaardes word verder ondersoek omdat hy voorheen betrokke was by diefstal.
Hannie Marais

30ste vir Chanette
Die 30ste roman van Chanette Paul van Stanford, Springgety, het onlangs die lig gesien en dit is duidelik dat sy nie een is wat sommer tot ruste gaan kom nie, “daarvoor is daar nog te veel om te doen”, vertel sy. Enkele artikels oor hierdie interessante romanskrywer van Stanford is voorheen in Gansbaai Media gepubliseer. Ná Annamarie Marais se artikel oor Chanette se 30ste roman (Tydskrif Rapport, 3 Maart 2008), is besluit om as plaaslike media weer by Chanette in haar huis op die rustige oewer van die Kleinerivier te gaan kuier, waar daar geen gebrek aan gasvryheid is nie. Op die buiteblad van Springgety lees die inleidende lees-lusmaker soos volg: “Dis ‘n plek waar die dood tasbaar na siele vra. Daarvan getuig die vier kruise op Springklip. En in die waters diep onder die kranse spoel siele nie los nie, word hulle in rotse vasgewroet, in wier verstrik en sit saam met seesterre soos lewende grafitti teen onderwaterriwwe.” Dié roman het ‘n fassinerende storielyn, interessante karakters en genoeg kinkels om die leser tot aan die einde aan die raai te hou.
Luidens ‘n persverklaring, vul hierdie spanningsroman van haar ‘n belangrike leemte in Afrikaans, aangesien daar gedurende die afgelope twee dekades maar min boeke in dié genre in Afrikaans verskyn het.
Die verhaal speel af op Kruisbaai, ‘n plek waar die dood tasbaar na siele vra, waarvan die vier kruise op Springklip getuig. Maar Lily Reyneke weet daar hoort ‘n vyfde kruis, want vandat sy Maja se voetspore na Kruisbaai gevolg het, het Springklip nóg ‘n lewe geëis: een wat gespring het óf gestamp is. Nou-ja, laat daar nou nie verder gegaan word nie, nou-nou word ‘n paar geheime verklap!
In 1996 ontvang Chanette die Perskor-prys vir haar debuutromanse en in 1999 en 2006 verskyn Wip van die Droomvanger en Leila word Lig, onderskeidelik op die kortlys vir die ATKV-prosaprys. Chanette het “rond en bont” grootgeword en het nege skole bygewoon, aan vyf universiteite gestudeer en het al in sewe provinsies gewoon. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, was ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en wat op Siembamba voorgelees is. Daarna volg ‘n tweede verhaal in haar universiteits-jare wat in Huisgenoot verskyn het. Maar dit is eers twintig jaar later, in 1995, wat sy vir die eerste keer weer aandag aan haar skryfwerk gegee het, waarmee sy nou reeds dertien jaar suksesvol besig is en met trots kan terugkyk na wat sy in ‘n relatiewe kort tydperk as romanskrywer bereik het. “Ek het hoofsaaklik op romanses gekonsen-treer, maar ek het altyd geweet eendag is eendag,” vertel Chanette, “en ek voel myself nou ook beter toegerus vir hierdie baie moeilike soort spanning-ter-wille-van-ontspanning-storiestyl.” Springgety is gedurende Mei 2007 deur haar gefinaliseer en was teen November 2007 op die rak.
“Dit was ‘n baie moeilike roman om te skryf,” vertel Chanette, “aangesien daar ‘n moeilike balans tussen ligte en meer ernstige romanse is en wat dit nog moeiliker maak, is dat daar tot dusver nie in Afrikaans werklik suspense-romans geskryf is nie.” Chanette beskryf ʼn suspense-roman as ‘n spesifieke soort spanningsroman wat verskil van die tipiese speurroman en sê daar is inderwaarheid nie eers ‘n behoorlike Afrikaanse benaming daarvoor nie. “’n Mens moet werklik ‘n passie daarvoor hê, aangesien al jou energie daarin moet gaan om te verhoed dat die leser die boek sal wil neersit.”
Sy vertel dat sy voorlopig klaar is met romanse en haar nou eers op suspense-romans wil toespits.
“Wip van die Droomvanger was eintlik reeds ‘n voorloper hiervan, maar die skryf daarvan was vir my destyds té tydrowend en my romanses was te goed in aanvraag,” vertel sy.
“Dit is dus nie die eerste keer dat ek myself in ander genres as die romanse begewe het nie, maar die skryf van Springgety was ‘n ingrypende aanpassing gewees en ek het algaande besef dat ek hier met ‘n ander soort skryf én ‘n ander soort dink te make het.”
As gevolg van die klemverskuiwing moes sy ‘n balans vind waar daar nie te veel na die romantiese verhaal aan die een kant, of ernstige lektuur aan die anderkant, oorgehel word nie.
Maar Chanette skryf nie net heeldag nie, nee, daarvoor is sy te energiek.
Sy is ook betrokke by manuskripont-wikkeling van belowende skrywers, aan wie sy ook hulp verleen.
Dan is sy ook gereeld by die ATKV se Lenteskool betrokke, werkswinkels en dies meer.
Voorts doen sy ook navorsing vir Lapa Uitgewers oor verskillende ontspannings-genres en publikasiemoontlikhede. Beslis ‘n mondvol so saam met haar 30ste boek in dertien jaar en haar 31ste boek alreeds weer by haar uitgewer. Met Springgety wat skaars die lig gesien het, kan die opvolg, naamlik Fortuin, gedurende Julie 2008 op die rak verwag word. Fortuin spog met ʼn hele spul nuwe karakters, maar dit speel nie ver van Kruisbaai af nie en speurder Gys Niemand se storie word verder gevoer. Volgens Chanette is dit hoog tyd dat die stigma wat aan spanningslektuur kleef, aan die verlede moet behoort, aangesien sy sterk daarvan oortuig is dat ‘n mens ook vir die lekker daarvan moet lees en dat die debakel tussen literati en sogenaamde populiste eintlik belaglik is. “Daar is ‘n plekkie in die son vir elke soort boek, solank lesers dit geniet!” En om die daad by die woord te voeg, het hierdie bedrywige mens intussen met haar 32ste boek begin! Nou-ja, ook op die gebied van suspense-roman, wens Gansbaai Media hierdie “trots” van Stanford net die beste toe en kan met reg ook dankie sê aan haar vir ‘n besonderse bydrae om Afrikaans ook op hierdie vlak lewendig te hou.
Hardus Botha

OP DIE MUSEUMWERF
SD Fourie
Tussen die Moolman-argiewe is daar ‘n vergeelde foto van ‘n groot groep mense voor ‘n plaashuis met twee spoggerige perdekarre daarlangs. Hulle is blink uitgevat vir die geleent-heid. Agterop die foto, in ‘n vloeiende handskrif en moontlik met ‘n outydse skoolpen wat in die ink gedoop is, die volgende:
“Dit is Benauwdheidsfontein zyn menschen allen …..Annie Moolman Andries J. Moolman”
Ouma Annie Moolman het in die vroeg dertigerjare van die vorige eeu die septer geswaai in Moolman’s Boardinghouse, op die hoek van Kerkstraat en Haweweg. Sy het losies verskaf aan al die onderwysers, reisigers en ‘n paar uitverkore kosgangers. Dit was Gansbaai se eerste gastehuis.
Voor die Moolmans se verhuising na Gansbaai, het hul op die plaas Benauwdheidsfontein, 10 km noord van Kimberley, gewoon. Daar is oupa Andries Moolman gedurende die Anglo-Boere Oorlog (1899-1902) deur die Tommies in ‘n konsentrasiekamp gestop omdat hy melk aan die Boerekommando’s gelewer het. Boetie Fourie, ons Spooktoere se kitaarspeler, het tydens sy onlangse besoek aan Kimberley spesiale moeite gedoen en ‘n kaart van die omgewing by die argief gekry en aan die museum geskenk. Dankie Boetie.
Charl Vivier van die Paarl het ‘n afdruk van die bekende Hans die Skipper skildery en sy oupa se leerkoffer gebring. Oubaas Lesch van Gansbaai het ‘n meelsif geskenk. Baie dankie.
Die museum het ‘n besondere druk tyd oor die Paasnaweek beleef. Ek moes selfs my Sondagmiddagslapie opoffer om te gaan uithelp, maar die besondere belangstelling van die kleinvolk is altyd meer as genoeg beloning. Drie tieners, skaars kweperbekwaam en boonop Engelssprekend, het laatmiddag aangemeld en met intense belangstelling begin uitvra. Watter wonderlike beloning as jy die gapende verwondering van die nuwe geslag aanskou by hul ontdekking van ‘n vervloë leefstyl. As mens hul inlig oor die kom-en-beker, boiler (warmwatertenk langs die stoof), slopemmer, stelletjie en die hele badritueel van ‘n eeu gelede. Later dieselfde middag, ‘n klein patroon van skaars ses jaar oud, wie daarop aandring dat sy haar naam self in die besoekersboek wil teken omdat die storie oor die houtpop vir haar baie mooi was. En die twee klein mannetjies wat op hul eie ‘n tweede besoek dié naweek inwerk en daarop aandring om ‘n fooi te betaal. Dit alles het meer as vergoed vir die verlore uiltjie.

VROUE VANDAG
GROEN
Ek sal my nou nie regtig beskou as ’n “groen” meisie nie. Elke mens het mos maar sy sakies waaroor hy standpunte inneem - soos die groen organisasies dit gereeld op straat neem en betoog. As dit nie is oor aardverwarming nie, is dit oor reënwoude en as dit nie reënwoude is nie, is dit weer die haaie of walvisse se beurt.
Iewers binne in my skuil daar tog so bietjie groen in my. Kan ek tog nie heeltemal ongenaakbaar staan oor groen sake nie. Alhoewel die groen organisasies nie juis hulle bene sal breek om my as ’n lid te werf nie.
Ek vrek oor groot en groen bome, die reuk van groen gras wat klaar gesny is. Ek dink dit is een van die groot redes hoekom die Boland met my siel praat. Al daardie reuse bome, valleie en berge. Groot bosse varkore wat in skadu’s blom en varings en ander plantegroei wat soos ’n oerwoud vertoon, doen iets aan my binneste.
Op my bord weer kan jy maar gerus avokadopeer, spinasie (in enige vorm), komkommer, agurkies, broccoli, groenboontjies, Brusselse spruite, slaaiblare of kool neersit. Ek vrek oor my groen groente! Vir basilliekruid, oreganum, mint en roosmaryn trek ek ook nie my neus op nie. Ek is enige dieetkundige se droom as dit kom by groente, maar dit is waar dit ophou. Ek neem aan die groen sop-dieet is dus ook dié een dieet wat ek die meeste geniet – nie dat dit ’n verskil maak nie!
Kiwivrugte, waatlemoen, lemmetjies, groen appels, groen druiwe sal voorkeur kry by my. Selfs sjokolade en roomys het altyd ’n groen geur of kleur. Verder kan jy vir my groen ystee gee, lemmetjie bruismelk of ’n pepermentlikeur voorsit.
Daar is vir my ook niks mooier as ’n vars kersboom nie. Deesdae kry jy bome in allerhande kleure en die anderdag het ek selfs ’n rooie gesien. Ek soek maar eerder my groen kersboom en sal hom dan tooi met rooi,wit of bont versierings.
Selfs my troue se kleur was groen, en vandag besef ek eers die groen slaan eintlik al van jongsaf deur. Gelukkig het ek nooit tot groen hare gevorder nie. As ’n mens mos jonk is, gaan jy deur fases en die meeste gaan verby (tot menige ouers se dankbaarheid) - net sommiges klou.
In my kas was van my mooiste uitrustings altyd groen. Ek het huidiglik seker drie groen bloesies. As ek my kom kry, koop ek nog een. In my jongdae het ek graag groen skoene gedra by my uitrustings.
Ek is mal oor ’n groen robot. Om te staan en te staan en te staan en net as jy uiteindelik voor uitkom, slaan die verdomde lig weer oranje, is te veel vir my brose lyfie.
Die Kaapse winters is in my bloed en op ’n reënerige dag is alles groen, berge, bome, bosse en gras. ’n Regte stukkie paradys!!!
Jy sal my nie elke Saterdag by Nuweland raakloop nie, en ek onthou die rugbyspelers soms meer vir hulle bou en voorkoms as vir die posisies waarin hulle speel. Tog kon jy nie groener bloed as myne kry tydens die Wêreldbeker nie. Die manne in groen en goud kon met my (en my senuwees) toor!
Daar is net twee groen dinge waarvan ek nie hou nie, die een is die ou groen-oog monster. Dié maak van mense lelike karakters en het selfs al moorde en gesinsmoorde veroorsaak.
Die ander een is groen motors. Ek glo vas dit is slegte geluk vir ons. Al ons groen motors was in motorongelukke - en ons was nie eers binne-in die motor nie!
Lorraine Brand


Private bewaringsgebied oopgestel
Goeie nuus vir voëlkykers, voetslaners en natuurliefhebbers is ’n onlangse aankondiging deur die Flower Valley Bewa-ringstrust dat oornaggeriewe op die plaas Witvoetskloof naby Gansbaai vir die publiek oopgestel is. Dié plaas tussen Stanford en Gansbaai is deel van ’n bewaringsgebied van sowat 1 300 hektaar op die Agulhasplein en bied uitstekende voëlkykgeleenthede, staproetes, pragtige natuurskoon en ’n groot verskeidenheid fauna en flora. Die huis op Witvoetskloof beskik oor slaapplek vir 14 mense en is toegerus met kook- en eetware, asook ’n gasstoof, -yskas en -vrieskas. Elektrisiteit word daagliks van 06h00 tot 08h00 en weer van 17h00 tot 22h00 opgewek. Viertrekvoertuie word aanbeveel vir die toegangspad en om die plaas te verken. Vir verdere inligting of om plek te bespreek, kontak Marianna Afrikaner by tel. 028 388 0713 of e-pos mafrikaner@flowervalley.co.za.



ONTDEK GANSBAAI
Om die Gansbaai Toerisme Sentrum in die Gateway Winkelsentrum te besoek, is om die Groter Gansbaai opnuut te ontdek, maar nou is dit nog makliker, aangesien hierdie pragtige en wêreldbekende omgewing ook tuis agter die rekenaar op internet ontdek kan word. “Daar is geweldig baie moeite gedoen vir ‘n professionele, maar gebruikersvriendelike webtuiste en mense kan gerus maar bie-tjie daar gaan rondloer,” vertel Glenda Kitley, Be-stuurder: Gansbaai Toerisme Buro. Die webtuiste bied ‘n groot verskeidenheid van inligting, foto’s en veel meer wat sommer groot lig op hierdie pragtige omgewing werp en wat alles hier te siene en te doene en te ete en om te geniet, is. Hierdie inligting sluit onder andere die volgende in: algemene inligting, geskiedkundige agtergrond, akkommodasie, eetplekke, vermaak, avontuur-uitstappies, besienswaardighede, wat om te sien en wat om te doen, en veel meer. Die goed-ontwerpte webtuiste het ook volledige (maar beslis nie vervelige!) inligting en beskrywings van alles, asook pragfoto’s van onder andere, walvisse, haaie, fynbos, die grotte, die onderskeie gemeenskappe, strandgebiede, pikkewyne, ligtoring, avonture, besiens-waardighede, visvang en veel meer. In die Gansbaai Toerisme Sentrum in die Gateway Sentrum, word sake ewe professioneel, maar vriendelik hanteer, met die leisels stewig in Glenda se bekwame hande, saam met haar ewe-knap perso-neel Petré Olivier en Doulene Els. ‘n Besoek aldaar is sonder twyfel die moeite werd en ook ‘n sterk aanbeveling, en onthou dan sommer ook om ‘n eksemplaar van die volledige brosjure, “The Greater Gansbaai Area”, te neem, wat nie net self benut kan word nie, maar ook aan besoekers gewys moet word. Terug by die webtuiste: Om self daar ‘n bietjie te gaan rondsnuffel, gaan na www.tourism gansbaai. co.za, dit sal die moeite werd wees, asook om die nodige self-kennis van hierdie pragtige omgewing en wat alles hier te siene en te doene is op te knap. Die Toerismekantore het gerieflike besoektye wat almal behoort te pas, naamlik Maandae tot Vrydae vanaf 08:30-17:30, Saterdae vanaf 09:00-16:00, Sondae vanaf 10:00-14:00 en publieke vakansiedae vanaf 10:00-16:00. Hulle kan ook by 028-384-1439 gekontak word, met die faksnommer 028-384-0955 en die e-pos adres gansbaainfo @telkomsa.net, en kom ons herhaal die pragtige webtuiste: www.tourism gansbaai.co.za net om seker te maak dit steek behoorlik iewers vas!
Hardus Botha

WHITE SHARK PROJECTS EMPOWERS
White Shark Projects – a shark diving and viewing organization – established in 1989, launched their newest and most original project – a Recycle Swop Shop – in the township of Masakhane, Gansbaai in December 2007. The Recycle Swop Shop is an empowerment initiative for children in Gansbaai, and the aim is two-fold: to clean up the community and teach environmental awareness and to help provide basic needs of children.
On Tuesday afternoons the children bring bags of tins, bottles, plastics and other recycable rubbish from the streets to the Swop Shop in Masakhane. The Swop Shop opens at 14:00 and way before that time the children are already gathering in lines with their rubbish in bags and even on wheelbarrows! In return for these recycables, the kids receive a number of points relating to how many bags they brought. Now the fun is already starting! You can see the smiles on the little faces while they are waiting to trade in their points for things from the Swop Shop. For example: one bag of tins will get you a bar of soap, two might get you a roll of toilet paper or a pencil, four a second hand t-shirt and so on. The more valuable the items, the higher the price, just like a real store.
Assisting at the Swop Shop, as a volunteer, is really a touching experience. You assist in their choices but some of them already have a mind of their own when having the opportunity to choose. One little girl came into the shop – and immediately went to an Ice-Snow Doll – apparently been eye-ing that item for quite some time.

One boy not wanting other stuff was opting for pants and a shirt. This initiative is really an eye-opener that lies in the responsibility that the children are taking in cleaning up their community; and in the same instance promoting recycling habits. After a few minutes you will also see some mothers with children on their backs – wanting to know what is happening or bringing some more rubbish to the children already in the line. As a volunteer – this is almost like bridging a gap between different cultures, all with the same vision in their minds – that is totally culturally enriching at the end of the day!
However, the Swop Shop is completely dependant on donations to operate. Donations from all kinds are welcome: from shoes and clothing, to pencils and toothbrushes. To contribute to this exciting project, contact Charmaine on 0837284833. White Shark Projects – a responsible tourism operation – are surely not only working in harmony with nature but is also taking a giant leap in empowering and sharing with their local communities.
Abraham Newman


UIT DIE WOORD
God beloon eerlikheid
Jesus het gesê
Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik (Luk.16:10).
Bevel
Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar ..... sodat daar vrede onder julle kan wees (Sag.8:16).
Waarheid
Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele hart die waarheid praat (Ps.15:1-2).
Waarskuwing
As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens (Ps.34:13-14). Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie (Spr.4:23-24).
Spreuk
’n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik (Spr.12:14).
Gaan doen
Gaan maak reg waar jy oneerlik was – of dit met geld te doen het en of jy die waarheid ’n bietjie gerek het of grootgepraat het.
Carpe Diem Media





TOE GANSBAAI NOG JONK WAS ...
Gansbaai spook

Gedurende die jare 1908 en 1930 het dit letterlik fisies kliphard op Gansbaai gespook. U moet onthou dat in die jare so bogenoem daar nog nie motors op Gansbaai was nie. Die gediertes het eers na 1931 gekom. Die paaie hier rond was almal sandpaaie. Eers na Unie-wording in 1931 (volgens my kennis) het die paaie hard geword en die perdekarre het rubberwiele gekry wat ’n doring in die gees vir die spoke was want hulle kon nie nou so lekker hoor wanneer daar ’n kar aankom nie. Die mens het hom gou by die evolusie aangepas maar die spoke was maar traag en daarby het hul net op volmaan beweeg andersins kon hulle nie sien om te beweeg nie, want Gansbaai het nog nie straatligte gehad nie. As hulle in die piknag donker moet beweeg kan hulle in mekaar vasgeloop het met katastrofiese gevolge. Onthou ek het gesê hierdie spoke was meer biologies fisies as geeste m.a.w. hulle was kliphard maar deurskynend. Vra maar vir die wat deur ’n spook geklap was.
So was daar ’n Jan Brommer wat naby Rosyntjiebos net langs die sandpad wat Papkuilsfontein (Palfontein genoem) toe geloop het, gewoon het.
Om een of ander rede het Jan die pad versper en vergeet om dit te verwyder. Omdat die spoke hier rond net vanaf 12 uur middernag beweeg, het ’n spook hom vererg vir die obstruksie en vir Jan gaan opklop. Jan was maar altyd kort van draad en ’n woordewisseling het ontstaan.
Jan beledig die spook wat toe volgens die spokereg vir Jan ’n snotklap gee dat sy kop eintlik links na sy skouer gedraai het, want die spook was ook links. Jan se kop het tot sy dood links gedraai bly staan.
Dit bring my by ’n storie wat Barend Sweetie my vertel het. Dit was diep in die somer en die geelbek (vis) het goed geloop. Die Gansbaaiers was by uitstek Godvresende mense, Sondae het hulle nie op die see gegaan nie.
Dit was ’n vaste gewoonte dat wanneer hulle, vierman en die skipper see toe gaan, die vier bemanning teen drie uur die oggend skuitbaai toe gaan, want daar was nie ’n hawe nie, die gereedskap uit die vishuis (stoorplek) kry en die skuit gereed maak sodat wanneer die skipper teen 4 uur kom hulle kan afstoot (waterlaat) en uitvaar.
Die betrokke Sondag oggend word die skipper teen vieruur wakker van manne wat praat en skuite afsleep water toe. Inderhaas en omgekrap kies die skipper af baai toe om die manne te gaan uittrap vir hul onbesonne daad.
In die baai gekom lê die skuite netjies afgestoot tot by die see net reg vir uitvaar, maar nêrens is ’n siel of ’n lig te sien nie.
Stomgeslaan het die skipper by die skuite waggehou totdat die manne hom teen daglig daar gevind het. Die skipper se storie is geglo want ander snaakse dinge het al voorheen in die baai gebeur.
Die spoke se verskoning wat aan Barend meegedeel is, want Barend is met die helm (helmit) gebore, was dat hulle, die spoke, vergeet het dit is ’n skrikkeljaar en gedink het dit is Maandagoggend.
Indien julle nog ware stories oor die kis geld wil hoor laat net weet.
Koos Groenewald



GANSBAAI GHOLFKLUB
Die lede van die Gholfklub is hierdie week geruk deur die tragiese heengaan van Christine, vrou van Hennie Kotze. Ons innigste simpatie aan Hennie en gesin. Mag God met julle wees.
Welkom aan nuwe lid Hein van Wyk. Mooiste verjaarsdagwense aan Walter Strydom, Zeta Ording & JC Crous op die 6e, Jason Stonehewer & ML van Zyl (9e), MG Lourens (12e) en Johan Hanekom, Cala Wessels & Stadler vd Merwe op die 13e.
Woensdag se kompetisie was 'n Enkel Stableford en 37 spelers het deelgeneem. Die uitslag was soos volg: Johan Coetzee 44 (bruto 77), Stella Swart 41, Rob Jerrard 41, C Matthews 40, Alet du Preez 40, Athol Rankin 40, Tobie Pentz 39, Gert du Preez 39, El Matthee 38, J Scholtz 38. Naaste aan pen op putjie no.2&11 Alet du Preez (borg: Hennie's Pub & Grill), op 8&17 was Gert du Preez en op no.15 was Gert van Wyk (BCS Lighting). Spog Twee's word aangeteken deur Alet du preez (no.11), Solly Wessels (no.8) en Stella Swart (no.11). Dirk van Dyk Jnr. teken 'n arend aan op no.10.
Vrydag se Hoenderkompetisie (borg: Kekkel & Kraai) word gewen deur Royce Woods met 21 punte, en tweede was Frikkie van Niekerk met 21. Die ledetrekking is nie gewen nie en word oorgedra na volgende week.
Saterdag was dit die Pofadder Gholfdag (borg: Buitesteen Pub & Grill). Die komitee en lede bedank Leon Mostert vir die aangename dag. Die wenners was J Crous & G v Zyl (besoekers van Kroonstad) met 58.3, gevolg deur S Wessels & R Woods 59.6, J Williams & W Butler 60, J le Roux & S Neethling 60.3, L Nieuwoudt 7 J Doyle 60.3, D Momberg & O Momberg 60.3, A Gouws & S Dreyer 60.3, T v Altena 7 J Fouche 61, P Newman & D Loubser 61, P du Toit & D Viljoen 61.3
Naaste aan penne was J Spandiel (no.2&11), S Wessels (no.8&17) en M Davin (no.11). Spog Twee word aangeteken deur M Davin (no.15), R Woods (no.11), A Coetzee (no.2) en P du Toit (no.15). Volgende Saterdag se kompetisie is 'n 4BBB Stableford en word geborg deur Thornburn Security (John Hitchcock).

Klub/Club Tel: 028 384 1441 (Eddie & Cala)
Navrae/Enquiries: Johan Coetzee 082 878 0534.


TENNISNUUS Eerstens baie geluk en voorspoed aan die volgende klublede wat in April verjaar: Gideon Pienaar (4), Boats van Staden (5), Boetie Louw (8), Ivan Giles (9) en Herman Stoffberg (22). Op klubvlak het ses spanne uit die gelote driespel ingeskryf wat op Vrydag 4 April ’n aanvang geneem het. In Seksie A1 het Willem de Jongh, Albert de Beer en Sip Groenewald hul eerste wedstryd teen Hennie Lourens, Pieter Conradie en Charlie Nowers met 15-14 gewen en hulle tweede teen Jeff Levy, Liz Levy en Sonja Chambers met 17-18 verloor. In die tweede rondte het die span van Jeff Levy ook met die van Hennie Lourens afgereken met 15-12 om sodoende in die finaal teen wenners van Seksie B te speel. Wat Seksie B betref dring die span van Helene le Roux, Hettie Lass en Bryan Chambers deur na die eindrondte met tellings van 7-16 teen Boetie Retief, Noeline de Beer en Lawson Crichten en ’n oorwinning van 28-9 teen Dalene Fourie, Liz Nowers en Herman Stoffberg. Laasgenoemde het vir die nederlaag vergoed deur die span van Boetie Retief met 15-13 te klop. In April bied Hermanus ’n tweedaagse gemengde vierspel aan waaraan twee spanne van Franskraal onder leiding van Wally Nimb en Lorrie Louwrens gaan deelneem. Hierdie toernooi, die Hermanus Classic word op 17 en 18 April gehou gevolg deur ’n Franskraal geborgde ope dag op 22 April. Die Kleinmond Herfs Toernooi word op 25 en 26 April gespeel met onder andere ’n span van Franskraal met Boetie Retief as skipper wat ingeskryf het. Die mansliga word Vrydag 11 April met die tweede rondte te Hermanus voortgesit. Vier spanne van Franskraal neem aan hierdie kusliga deel.
Rolbalgroete
Lorrie Louwrens



ROLBALNUUS
Die tenniskalender begin so stadigaan lewe kry en die eerste aksie is die begin van die 190’s Kompetisie. Ons sal weer soos gewoonlik ’n mans- en damesspan in die kompetisie hê. Die eerste afslaan is op 10 Mei te Montagu en die finaal sal op 9 Augustus ook op Montagu plaasvind. Vir dié wat nie weet nie, die 190’s Kompetisie word gespeel deur spanne van vier spelers, waarvan niemand onder 35 jaar oud mag wees nie maar ’n gesamentlike ouderdom van 190 jaar of meer moet wees. Spanne speel ook nie onder klubname nie maar kies hul eie naam. Ons mans is bekend as die “White Sharks” en die dames as die “Dolphin Dollies”.
Last Saturday we had a good turnout, the weather was fantastic and most enjoyable tennis was played. It is always heartening to have so many players on the courts. It would appear as if a new spirit of enthusiasm has gripped our members as we trust that it will last for years!
Social tennis is played on Wednesdays (15:00) and Saturdays (13:00). All tennis players are welcome. For more information please phone Desireé 082 680 7856 or Eben 082 474 9326.
Tennisgroete : Fanie Barnard


RUGBY
Black Leaves geknou
deur beserings
Die Black Leaves, Gansbaai se Premier-liga rugbyspan, het Saterdag in Blompark in die eerste wedstryd van die seisoen kragte gemeet met die kampioenspan in die liga, Rawsonville.
“Die dorp se span het ongelukkig vroeg in die wedstryd byna hul hele agterlyn weens beserings verloor,” sê die voorsitter van die Black Leaves klub, mnr. Karel Booysen. “Dit het die span gekniehalter.”
Die span het egter nie te ver verloor nie en die eindtelling was 13 – 6 vir Rawsonville.
Die Black Leaves is die eerste klubspan in die Overberg wat hul pad oopgespeel het na die Premier-liga.
Die span speel volgende Saterdag teen Ceres in ‘n weg-wedstryd.














Home